De Doorns op 'n mespunt
2012-11-06 13:30
Kaapstad – Ongeveer 8 000 plaaswerkers het Dinsdag in De Doorns byeengekom ná 'n gewelddadige protes waarin sommige wingerde aan die brand gesteek is, het 'n amptenaar van die Wes-Kaapse departement van landbou gesê.
"Die situasie is baie gespanne, maar dit lyk op die oomblik of die polisie in beheer is. Hulle het ook vir versterkings gevra en 'n helikopter is op pad," het Wouter Kriel, woordvoerder vir Gerrit van Rensburg, die LUR vir landbou, gesê.
Hy het gesê dit lyk of die groep beplan om 'n opmars te reël.
Van Rensburg, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, en die LUR vir kulturele sake en sport, Ivan Meyer, het om 08:00 met die polisie vergader om met 'n plan van aksie vorendag te kom.
"Daar is geen spesifieke leiers of lys van eise nie... die een ding wat baie belangrik is, is om 'n dialoog aan die gang te kry," het Kriel gesê.
Die N1 tussen Touwsrivier en De Doorns moes Maandag gesluit word toe plaaswerkers op die pad saamgedrom het.
Meer as 30 hektaar wingerde is in die optog vernietig.
"Hierdie is nie 'n staking nie en dit is nie deur plaaswerkers gereël nie, al is daar plaaswerkers onder die betogers. Dit wil voorkom of daar 'n politiese motivering is," het Kriel gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA