De Doorns-buitelanders in skuilings gehuisves
2009-11-17 19:19
Kaapstad – Die meeste van die 3 500 buitelanders wat Dinsdag uit hul huise in De Doorns geforseer is, gaan in munisipale stoorkamers langs ‘n polisiestasie in die omgewing gehuisves word, het Die Burger berig.
Supt. Desmond van der Westhuizen, stasiekommissaris, het gesê geen fisiese geweld teen die buitelanders is sover aangemeld nie. Volgens hom was daar ook nog niks beserings of arrestasies gerapporteer nie.
Die Burger het berig dat markiestente op ‘n sportveld opgesit word, en van die plaasboere het ook mense ingeneem.
“Die polisie het Dinsdagoggend rubberkoeëls afgevuur omdat mense probeer het om houthuise in die area af te breek,” het Van der Westhuizen gesê.
Gemoedere onder plaaslike inwoners het reeds verlede week begin opgevlam, nadat hulle beweer het dat buitelanders, meestal inwoners afkomstig van Zimbabwe en Lesotho, laer toelaes as plaaslike inwoners aanvaar. Hulle beweer ook die buitelanders beroof hulle van hul werke.
Volgens Van der Westhuizen het 68 buitelanders oor die naweek in stoorkamers geslaap, nadat ‘n bakleiery Vrydagaand by ‘n kroeg uitgebreek het, waarby Zimbabwiërs betrokke was. Gerugte het toe die rondte begin doen dat daar opgetree moet word teen buitelanders.
Van der Westhuizen het egter gesê dat xenofobia nie net eenkeer gebeur nie, maar dat dit iets is wat gereeld gebeur.
“Dit het te doen met geskiedenis. Ons moet almal saamwerk om die probleem op te los.”
- Die Burger