De Doorns: Joernalis se motor brand
2013-01-09 17:03
De Doorns – Stakende Wes-Kaapse plaaswerkers in De Doorns het Woensdag 'n joernalis se motor omgekeer en dit aan die brand gesteek.
Die motor, wat behoort het aan Independent Newspapers, is deur die Cape Times-joernalis Xolani Koyana gebruik.
Koyana het aan Sapa gesê hy moes uit sy motor na veiligheid getrek word ná betogers dit met klippe bestook het. Hy en 'n ander verslaggewer was in die motor toe betogers hulle omsingel het en aangesê het om die gebied te verlaat.
"Ek was saam met 'n ander verslaggewer... [en] mense het daarin geslaag om hom uit die motor te trek," het Koyana gesê.
Toe hy later ook uit die motor klim, is hy deur 'n groep mense na 'n nabygeleë kerk geneem.
"... toe ek [uit die motor klim], het hulle my geslaan."
Koyana het gesê hy was in die kerk toe die motor aan die brand gesteek is. Hy het net 'n paar klein snyplekke aan sy arm gehad ná die voorval.
Intussen is 'n polisiekaptein in 'n ander botsing met stakers beseer, het lt.kol. André Traut gesê.
"Dit was nie ernstig nie; hy is behandel en ontslaan."
Die N1-snelweg by De Doorns was teen Woensdagmiddag steeds gesluit ná gewelddadige botsings tussen stakende plaaswerkers en die polisie.
Betogers het die pad met klippe versper en ook klippe na die polisie gegooi, wat rubberkoeëls gebruik het om hulle uitmekaar te jaag.
Die hoofpad wat van die N1 na die dorp lei was met rubberkoeël-houers besaai.
Die betoging het deel gevorm van die eerste dag van die plaaswerkers se hernieude staking.
Altesaam 44 mense is deur die loop van die dag in hegtenis geneem toe die stakings gewelddadig geraak het, het Traut gesê.
Die onlustepolisie is volgens Traut ontbied om die situasie in De Doorns te monitor.
Betogers het motors vroeër met klippe bestook, waarna die paaie afgesper is.
Wes-Kaapse plaaswerkers het laat verlede jaar begin staak, en geëis dat hul lone van R69 na R150 per dag verhoog word. Werkers het ook op 'n beter grondhervormingsprogram aangedring.
Die hoogste aanbod wat boere sedertdien gemaak het, is R80.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA