De Doorns: Duisende plaaswerkers op N1
2013-01-17 16:58
Video - Man sterf ná rubberkoeël hom tref
'n Man is in 'n hospitaal dood ná hy na bewering in De Doorns deur die polisie met 'n rubberkoeël geskiet is. Kyk hier na ’n video.
KYK
Kaapstad – Duisende stakende plaaswerkers het Donderdagmiddag op die N1 in De Doorns aan 'n protesoptog deelgeneem, het die Black Association of the Wine and Spirit Industry (Bawsi) gesê.
Hulle het by plase op die pad aangedoen om meer werkers bymekaar te kry.
"Ek lei die opmars en daar is duisende van ons hier wat gelei word deur Njalas. Ek is seker die hele land se polisie is hier," het die president van Bawsi, Nosey Pieterse, gesê.
"Ons neem aan 'n vreedsame optog deel om te wys hierdie ding [die staking] gaan nie weggaan nie. Dis 'n duidelike boodskap dat die staking voortgaan."
Stakers het by elke plaas gestop om 'n memorandum aan boere te oorhandig waarin hulle onder andere 'n daaglikse loon van R150 eis.
Pieterse het gesê die staking is nie 'n poging om boere uit te lok nie.
Werkers het ongeveer 10 km geloop; die Suid-Afrikaanse weerburo het 'n temperatuur van 35 grade Celsius vir die dag voorspel. Die optog sal verwagting by die Hexrivier Hoërskool eindig.
Andre Traut, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het gesê die polisie hou sake dop. Hy het gesê geen geweld is tot dusver aangemeld nie.
Plaaswerkers het verlede jaar begin staak vir 'n hoër daaglikse loon en die implementering van 'n meer koherente grondhervormingsprogram.
Die staking is in Desember opgeskort, maar is verlede Woensdag in verskeie dele van die land hervat.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA