De Doorns: Departement van arbeid moet help
2012-11-14 10:24
Johannesburg – Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het 'n beroep op die departement van arbeid gedoen om in te gryp by die plaaswerkerstaking.
"Ek kan nie die kommissie vir indiensneming beïnvloed nie," het Joemat-Pettersson Woensdagoggend aan SAfm gesê.
"Dit is 'n kwessie vir die departement of die minister van arbeid. Ons het gedoen wat ons kon as die departement van landbou en ons sal steeds die werkers ondersteun."
Sy het gesê sy het gehelp om die verhoudings tussen stakende plaaswerkers en boere te herstel.
"Ek dink ons het opgetree as 'n fasiliteerder om toe te sien dat die onderhandelings op koers bly. Ons kan nie werkverlies in die sektor bekostig nie, dit is hoekom ons besluit het om te help om die situasie te normaliseer."
Business Day het Woensdag berig dat Joemat-Pettersson Dinsdagmiddag aan werkers gesê het sy sal namens hulle met pres. Jacob Zuma praat.
"Ek sal aan die president sê dat ons nie langer die oproepe van plaaswerkers kan ignoreer nie. Van daar af sal ons na die minister van arbeid gaan om sektorale bepalings te bespreek," het Joemat-Pettersson gesê.
Plaaswerkers in die Hexriviervallei het verlede Maandag begin staak en eis 'n daaglikse loon van R150 en beter werkstoestande. Die meeste plaaswerkers verdien tussen R69 en R75 'n dag en die meeste wat boere aanbied is R80.
Verskeie werkers is op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem.
"Ons doen 'n beroep op alle werkers om die geweld en vandalisme te stop," het die minister gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA