De Beers-staking begin Vrydag
2011-07-20 18:13
Johannesburg – Werkers van die De Beers-diamantmaatskapy maak gereed om van Vrydag af te staak nadat praatjies oor lone deur die mat geval het, het die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) gesê.
“NUM het vanmiddag (Woensdagmiddag) kennis van die staking aan De Beers Consolidated Mines gegee,” het Lesiba Seshoka, woordvoerder, gesê.
Arbeidswette lui dat minstens 48 uur kennis gegee moet word voordat ‘n staking begin.
Wayne Smerdon, woordvoerder van De Beers, het gesê die maatskappy het sy aanbod tot sewe persent opgebring, met bykomende kontantbetalings.
“Die heel minimum basiese salaris sal op R5 885 gestel word. Om dit in konteks te plaas, diéminimum salaris affekteer minder as 100 uit 2 818 werknemers van De Beers Consolidated Mines,” het Smerdon gesê.
Die maatskappy het aanvanklik ‘n verhoging van vyf persent aangebied. NUM dring aan op 15 persent.
Nóg ‘n punt van konflik is dat NUM wil hê ‘n bedrag moet maandeliks van werkers wat nie lede van NUM is nie, se salarisse afgetrek word, sodat voordele wat hulle toekom vanweë onderhandelinge deur dié vakbond nie verniet is nie.
Smerdon het gesê só ‘n ooreenkoms druis in teen werkers se reg tot vryheid van assosiasie.
Volgens Smerdon sal vyf myne deur die staking geraak word, maar word daar voorsiening gemaak vir dié probleme.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA