Danser pleeg selfmoord terwyl ma hom smeek
2009-10-25 12:56
Johannesburg - 'n Ma van Secunda het op haar selfoon met haar seun, Willie Groenewald – ’n danser vir kunstenaars soos Patricia Lewis en Bok van Blerk – gepraat terwyl hy selfmoord gepleeg het deur met sy motor reg van voor in ’n vragmotor vas te ry.
Me. Marianne Bekker sê terwyl sy Woensdagmiddag haar seun gesmeek het om nié selfmoord te pleeg nie, het sy skielik sy gegil gehoor en toe ’n harde slag. Hierna was die selfoon stil.
Dit het die afgelope week gegons oor Groenewald (23) se omstrede dood. Hy het glo Woensdagoggend ’n oproep van die sanger Shaun Tait se pa en bestuurder, mnr. Werner Tait, gekry waarin hy glo gedreig is met ’n dagvaarding.
Tait sr. het blykbaar ook aan Groenewald gesê hy het begin met stappe om die jong danser se naam op ’n swartlys te laat plaas weens ’n bedrag van R7 000 wat hy glo sy seun skuld. Tait het opgetree by ’n konsert wat Groenewald gereël het en hy kon glo nie bekostig om die kunstenaars te betaal nie.
Dit blyk ook dat Groenewald glo gefassineer was deur die manier waarop die sangeres Irene van Wyk vroeër vandeesmaand gesterf het. Van Wyk was ook in ’n trompop-botsing met ’n vragmotor betrokke nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Groenewald was Dinsdag by Van Wyk se begrafnis en het baie gehuil.
Sy ma het eergister huilend vertel hoe sy dadelik na die ongelukstoneel gejaag het toe die selfoonverbinding verbreek is.
“Hulle het nog gesukkel om my seun uit die wrak te kry. Toe ek sy kar sien, het ek geweet my kind is dood. Die polisie wou nie hê ek moes naby kom nie.”
In die voertuig was ’n brief van Groenewald waarin hy sê dat hy lief is vir sy familie en vriende. Kort voor sy dood het hy ’n SMS aan sy vriende gestuur met die woorde: “Ek is jammer.”
Albertus Kotze, Tait se woordvoerder, sê dis onregverdig om Tait sr. te blameer. “Ons het nog vroeër die dag met Willie ooreengekom om sy skuld af te betaal.”
Groenewald se begrafnis word Donderdag in Nigel gehou.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport