Dankie, SA! - Joost
2011-05-15 07:17
Johannesburg – Joost van der Westhuizen het Saterdag in ’n eksklusiewe verklaring aan Rapport vanuit sy hospitaalbed sy dank uitgespreek teenoor Suid-Afrika vir al die ondersteuning wat hy ontvang het.
“Baie dankie vir al die boodskappe van ondersteuning en wense wat ek gekry het,” lui die verklaring wat hy aan sy woordvoerder, Bridget van Oerle, gedikteer het.
“Nie net van Suid-Afrika nie, maar van regoor die wêreld. Ek is oorweldig deur al die boodskappe,” het Joost gesê.
Dié voormalige Springbok-rugbyheld was gister nog in die Sunninghill-hospitaal in Sandton, Johannesburg, nadat hy voorlopig met motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer is.
Dié vernietigende siekte tas die senuwees aan wat die spiere beheer.
Amor Vittone, Joost se vervreemde vrou, het hul kinders, Jordan (7) en Kylie (5), Saterdag na die hospitaal geneem om hul pa te besoek.
Sy het egter alleen uitgeloop – waarskynlik om haar kinders teen die kalklig te beskerm – en het ’n donkerbril gedra.
Joost is in die hospitaal vir behandeling om sy liggaam se immuniteit te versterk.
Hy ondergaan ook toetse met die oog op ’n finale diagnose en om te bepaal hoe gevorderd die toestand is.
Sover bekend bestaan daar nog geen middel om MNS te genees nie.
Die nuus oor Joost se siekte het skokgolwe deur die land gestuur. Goeie wense het van oral – ook vanuit die buiteland – ingestroom.
Amor het Donderdag die nuus só aan die kinders vertel: “Dadda is baie siek. Sy spiere werk nie soos dit moet nie.”
Later het sy weer aan Jordan verduidelik: “Pappa is ernstig siek.”
In ’n radio-onderhoud met Jacaranda 94.2 Vrydag het Amor gesê “dit was soos ’n doodsvonnis” toe sy die nuus oor sy siekte gehoor het.
Dr. Henry Kelbrick, Joost se doktersvriend wat heel eerste vermoed het hy is siek, het Saterdag aan Rapport gesê Joost leef nog in onsekerheid. Hy wag op die uitslag van die finale toetse om te hoor watter vorm van MNS Joost onder lede het.
Watter soort MNS gediagnoseer word, sal bepaal of Joost noodlottig siek is of nie.
“In hierdie stadium is dit nog moeilik om te sê.”
Dit is ook nog onseker wanneer Joost ontslaan gaan word.
Kelbrick het vertel hoe hy begin vermoed het sy vriend is ernstig siek toe hulle in die Paasnaweek saam by Sun City uitgespan het.
“Ons het in die swembad gestoei… Ek het besef sy regterarm is swakker as sy linkerarm.
“Die volgende dag het Joost se tong begin sleep terwyl ons gesels het.
“Dit was die gevaarligte.”
“Sy tong het begin blou word. Joost het gesê dit gebeur gereeld.”
Kelbrick het Joost na die Pretoria-se neuroloog dr. Pieter Kritzinger geneem, wat hom voorlopig met MNS gediagnoseer het.
Gister is daar onder meer van Joost se bloed getrek vir ontleding.
MNS is ’n siekte wat steeds medici en wetenskaplikes regoor die wêreld laat kopkrap.
Wanneer pasiënte met die siekte gediagnoseer word, word hulle gewoonlik tot vyf jaar gegee om leef.
Maar prof. Stephen Hawking, ’n Engelse fisikus, leef al 50 jaar lank met MNS.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport