'Dan was my man ook dood!'
2010-01-16 08:11
Erika Gibson
Johannesburg - Twee Pretorianers wat vir die Verenigde Nasies (VN) in Haïti werk het Dinsdag waarskynlik aan die dood ontkom omdat die een die ander op die lughawe gaan haal het pas voordat die aardbewing getref het.
Hulle was op pad terug van die lughawe toe die aardbewing getref en onder meer die VN-kantoorgebou laat ineenstort het.
Minstens 20 VN-werknemers, onder wie die kantoorhoof, het in die gebou gesterf.
“(My man) Neville se kantoor was in daai gebou. As hy op kantoor was, het hy waarskynlik ook gesterf,” het Charmaine Fouché van Clubview gister vertel.
Fouché, die VN se ramphoof in Haïti, het C.P. Van der Merwe van Elarduspark dié dag op die lughawe gaan haal toe laasgenoemde vir die eerste dag van sy kontrak as brandweer- en nooddienswerker by die VN in Haïti aangekom het.
“Hulle was in die motor op pad terug toe die aardbewing getref het. Neville sê dit was vreeslik.”
Sy het eergisteraand vir die eerste keer met haar man gepraat nadat hy vroeër net gebel het om te sê hy is ongedeerd.
“My man het vir tien jaar in Kosowo gewerk; hy is gewoond daaraan om slegte goed te sien, maar ek kon hoor hy is emosioneel.
“Altesame 20 van sy kollegas is dood en hy help om hulle uit te grawe. Ek bekommer my, want ek weet hy gaan werk totdat hy neerslaan.
“Hy het nie eens ’n plek om te rus nie, want die kampong waar hulle naby die lughawe gebly het, is ook verwoes.
“Hulle kan niks van hul besittings daar gaan uithaal nie,” het Fouché gister vertel.
“CP se vrou, Elna, en ek was saam in Kosowo. Nou is ons amper soos familie en ondersteun mekaar.”
Fouché moes destyds uit Kosowo na Suid-Afrika terugkeer nadat sy nierversaking gekry het. Haar man het verlede jaar een van sy niere aan haar geskenk, maar haar liggaam het dit verwerp.
“Ek is heeltyd op dialise. Dit is erg om nie by my man te kan wees om hom te ondersteun nie.”
Volgens haar het haar man verlede jaar ook gehelp toe ’n skool in Port-au-Prince, Haïti se hoofstad, ineengestort en etlike kinders dood of vermink is.
“Dit is vir hom sleg as kinders iets oorkom. Dit is hoekom ek kon hoor hy is nou die aand ook emosioneel, want hy kry die arme kinders jammer.”
Sy het kort ná die aardbewing op TV daarvan verneem.
“Maar ek kon nie deurkom op sy selfoon nie. Toe my foon later lui en ek hoor dis Neville en dat hy oukei is, was die verligting onbeskryflik.
“Nou hoop ek net ek kan op een van die noodvlugte van hier af vir hom sy chroniese medikasie stuur, want dit is nou daarmee heen.”
- Beeld