Dalk nóg drama by SABC
2010-01-03 09:21
Johannesburg - Die nuutverkose SABC-raad sal die aanstelling van Solly Mokoetle, voormalige hoof- inhoudsbeampte van Telkom Media, as die openbare uitsaaier se uitvoerende hoof teenstaan, het die Sunday Times berig.
'n Anonieme "woedende raadslid" het vir die koerant gesê die nuwe raad sal Mokoetle se aanstelling as uitvoerende hoof teenstaan.
"Dit beteken ons sal nie ons eie uitvoerende hoof kan aanstel nie, soos 'n raad gewoonlik doen... Die aanstelling is onvanpas en spreek van 'n versuim om die korrekte prosedures te volg," het die anonieme raadslid gesê.
Mokoetle, wat tussen 2001 en Desember 2006 die SABC se hoof- bedryfsbeampte was, sal vanaf 1 Januarie as die openbare uitsaaier se uitvoerende hoof dien op 'n vyf-jaar-kontrak.
Die raadslid het gesê die besluit deur die minister van kommunikasie, Siphiwe Nyanda, kan die SABC in "algehele chaos" dompel.
Mokoetle se aanstelling volg op 'n R11 milj.-skikking in Augustus tussen die SABC en sy voormalige uitvoerende hoof, Dali Mpofu.
- SAPA