Dalai Lama visum al verleentheid – DA
2011-10-03 09:02
Johannesburg – Die sloerdery met die uitreiking van ’n visum aan die Dalai Lama dreig nou om ’n nasionale verleentheid te word.
Só het Masizole Mnqa- sela, DA-LP en dié party se woordvoerder oor binnelandse sake, Sondag gesê toe hy uitgevaar het teen die Suid-Afrikaanse regering se besluitloosheid in die kwessie.
Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu het die Dalai Lama genooi om Vrydag sy se verjaardagviering by te woon en die Dalai Lama hoop volgens sy woordvoerders om Woensdag na Suid-Afrika te vlieg.
Ela Gandhi, kleindogter van dié Indiese spirituele leier en politikus, het intussen aangekondig dat die Dalai Lama tydens sy besoek aan Suid-Afrika met die Mahandas Gandhi- internasionale prys vir vrede en versoening vereer sal word.
Die Universiteit van die Witwatersrand het hom genooi om die daaropvolgende naweek ’n praatjie te lewer oor geweldloosheid in die komende eeu.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, wou nie Sondag sê hoe die verwerking van die visum-aansoek vorder nie.
Die Suid-Afrikaanse regering het reeds in 2009, te midde van internasionale belangstel- ling, geweier om ’n visum aan die Tibettaanse spirituele leier uit te reik – glo om sy betrekkinge met China te beskerm.
“Die Dalai Lama se aansoek om ’n Suid-Afrikaanse visum verloop soos enige normale aansoek van dié aard en ek kan dit ongelukkig glad nie met enigiemand behalwe die aansoeker bespreek nie,” het Monyela gesê.
Sonam Tenzing, die Dalai Lama se woordvoerder in Suid-Afrika, het gesê die Tibettaanse spirituele leier se kantoor hoop steeds dat die visum betyds toegestaan sal word.
“Ons verteenwoordigers in Nieu-Delhi (Indië) sal Maandag (vandag) weer na die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris gaan, maar die tyd raak nou min,” het Tenzing gesê.
Mnqasela het intussen aan Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, geskryf en gevra om dringend stappe te doen.
“Dit is baie duidelik ’n saak wat deur binnelandse sake opgelos moet word en raak die departement van internasionale betrekkinge eintlik glad nie,” het Mnqasela gesê.
“Die Dalai Lama beplan nie eens ’n amptelike staatsbesoek aan Suid-Afrika nie – hy wil bloot as ’n gewone toeris teenwoordig wees by die verjaarsdagpartytjie van sy ou vriend, Desmond Tutu!”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld