Dalai Lama uitspraak voorbehou
2011-12-13 11:23
Kaapstad – Regter Dennis Davis het Maandag uitspraak voorbehou in die saak waarin die prosedures rondom die Dalai Lama se visumaansoek bevraagteken word.
Mangosuthu Buthelezi en Mosiuoa Lekota, onderskeidelik IVP- en Cope-leier, het ’n hofaansoek teen die departemente van binnelandse sake en internasionale betrekkinge en samewerking gebring oor hul optrede rakende die Dalai Lama se visumaansoek.
Die Dalai Lama is na Suid-Afrika genooi om emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu se 80ste verjaardagpartytjie op 7 Oktober by te woon.
Hy het sy reis twee dae voor Tutu se verjaardag gekanselleer nadat 'n besluit oor sy visumaansoek nog nie geneem was nie.
Die Dalai Lama is as verbanne geestelike leier van Tibet ’n internasionale simbool van verset teen China se menseregtevergrype in dié besette land.
Die Burger het vroeër berig adv. Marumo Moerane SC, vir die minister van binnelandse sake, het Maandag in sy repliek aangevoer die persoon of party wie se regte na bewering geskend is, is nie eens voor die hof nie.
“Pleks daarvan het ons politieke leiers van die land wat hierdie aansoek bring. Hierdie litigasie is ’n politieke een.
“Dit word gedoen namens iemand wat nie belangstelling toon nie.”
Hy het verder aangevoer dat die minister, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, haar eie diskresie gebruik het.
– Eyewitness News.
– Volg Nuus24 op Twitter.