Dalai Lama-besluit 'sal nie openbaar gemaak word nie'
2011-10-02 22:21
Johannesburg – ‘n Besluit oor die Dalai Lama se visumaansoek om Suid-Afrika te besoek, sal nie openbaar gemaak word nie, het die departement van internasionale betrekkinge en verhoudinge Sondag gesê.
“Die visumaansoek ondergaan gewone prosesse en die uitkoms sal aan die aansoeker oorgedra word,” het Clayson Monyela, woordvoerder, gesê.
Die departement sal nie die media inlig oor die uitkoms nie.
City Press het berig die Tibettaanse geestelike leier sal Maandag oor die uitkoms ingelig word en dat dit onwaarskynlik is dat ‘n visum aan hom toegestaan sal word, aangesien die Suid-Afrikaanse regering nie bande met China in gedrang wil bring nie, het ‘n anonieme bron binne die departement gesê.
Die Dalai Lama is uitgenooi om Emeritus-Aartsbiskop Desmond Tutu se 80ste verjaardagvieringe, wat komende naweek plaasvind, by te woon.
Hy het twee jaar gelede om ‘n visum aansoek gedoen, maar is toegang tot die land geweier.
Masizole Mnqasela, DA-LP, het gesê die Dalai Lama se visumaansoek moet deur die departement van binnelandse sake hanteer word.
“Dit is duidelik ‘n kwessie van binnelandse sake en nie ‘n kwessie vir die departement van internasionale verhoudinge en betrekkinge nie. Hierdie is nie ‘n amptelike staatsbesoek van die Tibettaanse geestelike leier nie en vereis dus nie insae van die minister van die departement nie,” het hy gesê.
Die Dalai Lama se visumaansoek was egter nie bloot ‘n administratiewe kwessie nie, het die departement van binnelandse sake geantwoord.
“Dit bly ‘n kwessie met politieke en diplomatieke implikasies en is dus steeds binne die mandaat van die departement van internasionale verhoudinge en betrekkinge,” het Ronnie Mamoepa, woordvoerder, Sondag gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA