Dalai Lama: Cosatu kap ook regering
2011-10-07 08:11
Kaapstad – Cosatu, die ANC se vernaamste alliansievennoot, het Donderdag sy stem gevoeg by die skerp kritiek oor die regering se “lompe hantering” van die Dalai Lama se visum-aansoek.
Die vakverbond het die regering se “gebrek aan deursigtigheid” veroordeel en die botsende boodskappe wat die regering oor die kwessie uitgestuur het.
Hoewel hulle met die aartsbiskop-emeritus dr. Desmond Tutu se vroeëre uitsprake verskil, veral dat hy vir die ondergang van die ANC-regering sal bid, glo hulle sy woede en frustrasie is geregverdig in die lig van die teenstrydige en verwarrende kommunikasie ten opsigte van die visum-aansoek. “Die onnodige vertragings en die regering se gebrek aan duidelike en bondige redes vir die vertragings in die verwerking van die visumaansoek, het net tot vermoedens van vuilspel gelei,” lui die verklaring.
Allister Sparks, veteraanjoernalis en mede-skrywer van Tutu se biografie, het Donderdag op die bekendstelling daarvan die regering se hantering van die visum as ’n “skandelike belediging” beskryf. Dit is ’n “tragedie” dat die visum nie toegestaan is nie. “Ek het net een frase vir dié optrede. Ek sê dit is ’n skandelike belediging. Dit is ’n nasionale skande om dié twee mense te keer om saam te kom vir dié feestelike geleentheid – ’n verjaardagpartytjie. Geen wonder die aartsbiskop is briesend kwaad nie.”
Tutu, wat vandag 80 word, het die Dalai Lama na sy verjaardagviering genooi. Die geestelike leier het egter sy reis na Suid-Afrika afgestel weens die regering se gesloer om ’n visum aan hom uit te reik.
Die Dalai Lama was geskeduleer om môre die eerste internasionale Desmond Tutu-vredeslesing by die Universiteit van Wes-Kaapland te lewer.
Tutu het Dinsdag uit woede oor die regering se gesloer met die visum gesê die regering is erger as die apartheidsregime.
Intussen het daar niks gekom van die Desmond Tutu-vredesentrum se laaste poging om die Dalai Lama steeds na Suid-Afrika te laat kom nie. Die sentrum het Woensdagaand ’n brief aan adj.pres. Kgalema Motlanthe gestuur waarin hulle versoek dat ’n visum Donderdag aan hom uitgereik word. Dié stap is gedoen nadat Motlanthe in ’n koerantberig aangehaal is dat die regering steeds die visum aan die Dalai Lama sou uitreik as hy nie self sy reis afgestel het nie.
Motlanthe se kantoor het egter Donderdag gesê hy werk nie met visums nie. “Die enigste versoek in die brief was dat die adjunkpresident ’n ondubbelsinnige verklaring uitreik dat die Dalai Lama ’n visum sal ontvang. Hy het egter niks met visums te doen nie. Hy sal hom ook nie by die werk van ander departemente inmeng nie.”
Sonam Tenzing, die Dalai Lama se verteenwoordiger in Pretoria, het gesê die Tibettaanse geestelike het vroeër besluit om sy reis af te stel. “Dié besluit bly staan.”
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, wou nie Donderdag by die sage betrek word nie en gesê dié kwessie is in die hande van die departement van internasionale betrekkinge.
Die FW de Klerk-stigting het die aangeleentheid as ’n “verleentheid” vir Suid-Afrikaners bestempel. Die stigting het in ’n verklaring gesê die wyse waarop die aangeleentheid gehanteer is, reflekteer swak op almal wat hiervoor verantwoordelik is. “Die stelling van die departement van internasionale betrekkinge dat die visum nie geweier is nie en dat dit verwerk word, is eenvoudig vals.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad