Dagmoeder slaan glo nóg ’n baba
2011-02-15 08:21
Pretoria – Nóg ’n ouer het na vore gekom en gesê haar baba is glo ook deur die dagmoeder van die Teddy Winks-kleuterskool in Suiderberg, Pretoria, geslaan.
Leonie Taute (35) se dogter, Zaniëlye (1), se linkerbinnebeen was potblou nadat Linda Mans, die dagmoeder, haar glo in September geslaan het. Zaniëlye was toe agt maande oud en vier maande in Teddy Winks.
Taute het gesê Mans het eers gesê die baba het aan broccoli verstik en dat sy haar per ongeluk hard op die been geslaan het.
“Toe ek vra hoekom sy haar nie op die rug getik het nie, het sy haar storie verander en erken sy het my kind geslaan. Sy het ook in ’n brief in Zaniëlye se dagboek verskoning gevra omdat sy haar geslaan het.
“Ek het my kind onmiddellik uit die kleuterskool gehaal, maar die voorval nie by die polisie aangemeld nie,” het Taute gesê.
Mans is gister na die Hercules-polisiekantoor om verklarings af te lê oor twee klagte van aanranding wat teen haar ondersoek word.
Haar dienste as Sondagskoolonderwyseres is ook opgeskort.
’n Klag van aanranding op Divan Myburgh (nege maande) word teen haar ondersoek nadat sy hom Dinsdag glo so hard op die regterwang geklap het dat haar vingermerke vyf dae ná die klap nog op sy gesig sigbaar was.
Mans het daarna in ’n brief aan die ouers in Divan se dagboek verskoning gevra.
Nog ’n klag van aanranding word ondersoek omdat sy na bewering Keylaene-Maré Schreiber (agt maande) “herhaaldelik en hard” op die boude, bene, rug en arm geslaan het.
Mans het ná die voorval aan Daryl (27) en Bernadine Schreiber (30), Keylaene- Maré se ouers, gesê ’n vrou in haar diens het hul dogter “gepiets omdat sy nie wou slaap nie”. Dié baba was skaars ’n week by die dagmoeder toe dit op 10 Januarie gebeur het.
Kapt. Bongi Msimango, polisiewoordvoerder, het gesê die dossiere sal nou aan die direkteur van openbare vervolging gestuur word om te besluit of Mans vervolg gaan word of nie.
Mans se dienste as Sondagskoolonderwyseres by die NG kerk Wonderboompoort is ook gister gestaak.
Ds. Naudé Kritzinger het gesê hy sou Maandagmiddag na Mans gaan om met haar oor die besluit te praat. “Ons het besluit sy moet maar ’n bietjie terugstaan totdat die sake afgehandel is. Ons het egter nooit rede gehad om te vermoed dat sy ’n kind by die kerk slaan nie.
“Ongelukkig moet ons haar dienste staak totdat ons duidelikheid het en totdat die saak afgehandel is,” het Kritzinger gesê.
Intussen het dit aan die lig gekom dat Mans nie ’n geregistreerde dagmoeder is nie.
Lydia Venter van die Pretoriase Dagmoedersvereniging het gister gesê Teddy Winks se lidmaatskap by hulle het op
31 Desember verval en dat Mans nie weer geregistreer het nie.
“Die dagmoeder was net ’n jaar by ons geregistreer,” het Venter gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld