Daar ruk iemand kerk se Kersliggies af
2010-12-13 22:44
Beeld
Donderdag was al die liggies nog daar. Sondagoggend, toe die gemeente weer by die Volle Evangelie Kerk in Randhart, Alberton, kom, was die drade afgeruk en afgesny.
Dít nadat iemand klaarblyklik besluit het hy of sy hou nie van Kersversierings nie.
“Dis hartseer. ’n Mens wonder wat deur so ’n mens se kop gaan,” het ’n teleurgestelde pastoor Gerhard Swart, leraar van die kerk, gistermiddag gesê.
“Ons versier al drie jaar die kerk met Kersliggies en probeer elke jaar ’n paar bysit. Ons trek nou seker al by die 23 000. Vanjaar het ons hulle teen die einde van November opgesit en Donderdagaand toe ons by die Kerk was, het alles nog gewerk.
“Sondag toe ons weer daar kom, het iemand van die drade afgeruk, van die drade is afgeknip, sowat 20 m van die draadliggies is gesteel en van die beheerboksies en tydskakelaars wat die liggies laat aan- en afskakel, is gesteel,” sê Swart.
“’n Mens wil nie oordeel nie, maar dit is blote vandalisme as iemand so iets doen. Dis seker maar iemand wat nog nooit enige geluk of vreugde ervaar het nie,” sê Swart.