Daar kom nog!
2011-01-08 07:50
Bloemfontein – Terwyl vloedwater en weerlig al sowat 20 mense se lewe die afgelope twee dae geëis het, waarsku kenners dat nog swaar reën Suid-Afrika die volgende paar maande kan tref.
Dit kom terwyl dorpe, huise, plesieroorde en selfs eilande in die Vaal- en die Oranjerivier tussen die Vaaldam en Upington haastig ontruim is en ’n watermassa oor laagliggende huise begin spoel het.
In die Vaaldriehoek het die Vaal se vloedwater reeds miljoene rande se skade aangerig, berig Riata Nel.
Terwyl die vloedwater gister tot by hulle opgestoot het en die kapel verswelg het, is daar nogtans voortgegaan met ’n bruilof by Stonehaven on Vaal.
Linda Page van die departement van waterwese het gesê die watervlakke stroomaf van die Vaaldam gaan na verwagting vlakke bereik wat “laas gedurende die 1996-vloed gesien is”.
Kobus Weideman (48), eienaar van die Rocky Ridge-oord by Parys, het eergister verdrink toe hy ’n werker wou red, berig Johan Brits .
Nooddienste het hulle hier begin voorberei op die ergste as die Vaalrivier se vlakke nóg styg.
By Kimberley moes inwoners van Riverton hul huise langs die Vaal gister inderhaas ontruim.
Die watervlak van die rivier sou na verwagting teen gisteraand hoër as dié huise wees.
By Upington word verwag dat die watervlak van die Oranjerivier teen môre na verwagting tussen 7,3 m en 7,5 m sal wees.
In die Oos-Kaap het reeds 17 mense óf verdrink óf is deur weerlig doodgeslaan en vyf Duitse toeriste het ’n noue ontkoming gehad toe hul Jeep Cherokee deur die vol Mpakurivier aan die Wildekus meegesleur is, berig Sapa.
Johan van der Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê die oorstromings die laaste paar weke in Queensland aan die oostekant van Australië is tipies van sterk La Niña-verskynsels en laat gevaarligte flikker vir swaar reën in Suid-Afrika in die komende paar maande.
“Daar is nogal ’n sterk ooreenkoms tussen wat in Australië en in Suid-Afrika gebeur, gewoonlik met ’n tydsverskil van tussen een tot drie maande.”
Dit sal volg op die swaar reën in Desember en veral die laaste week in groot gebiede van veral Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en ook dele van Mpumalanga en die Oos-Kaap.
In Johannesburg se Botaniese Tuin is daar alleen in Desember 345 mm reën gemeet, in Bethlehem 273 mm en in Ladysmith 286 mm nog vóór die swaar reën hier vandeesweek.
Fraserburg in die Noord-Kaap se 90 mm was 448% van sy gemiddelde reënval van 20 mm vir Desember en Keimoes se 91 mm was 545% van sy normale 17 mm.
Van der Berg sê tradisioneel is ’n sterk La Niña-jaar geneig om veral oor die sentrale tot westelike en suidelike dele van die land baie reën te veroorsaak in die tweede deel van die somerseisoen.
“Omdat alle damme nou vol en riviere in vloed is, is die gevaar dat selfs matige hoeveelhede reën nou ernstige gevolge hê.” Hy verwag dat daar van middel Januarie weer redelike swaar reën sal voorkom.
Volgens die departement van waterwese was talle groot damme gister meer as 100% vol.
Die Gariepdam was 116,9% vol met ’n invloei van 2 264 m3/sekonde en die Vaaldam was 110% vol met ’n invloei van sowat 2 657 m3/sekonde.
- Volksblad