'Daar is geen krisis' – Motshekga
2013-01-03 17:59
Johannesburg – Daar is geen onderwyskrisis in Gauteng en Suid-Afrika nie, het Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, Donderdag gesê.
"Dit [die matriekuitslae] moet gevier word, al is daar nog uitdagings... Maar daar is geen krisis nie," het Motshekga in Johannesburg gesê tydens die aankondiging van Gauteng se matriekuitslae vir 2012.
"Daar is 'n interministeriële [komitee] om die [probleme] op te los. Vandag vier ons fees."
Die aantal leerders wat die Nasionale Senior Sertifikaat in Gauteng verwerf het, het met 2,8% toegeneem, van 81,1% in 2011 tot 83,9% in 2012.
Motshekga het die leerders, onderwysers en ouers in die provinsie geluk gewens omdat hulle die tweede keer in drie jaar die beste uitslae in die land gehad het.
"Baie dankie dat julle ons vreugde gee en trots maak."
Motshekga het Woensdag aangekondig dat die slaagsyfer in Suid-Afrika as geheel van 70,2% in 2011 na 73,9% in 2012 gestyg het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA