DNS-databasis as wapen teen stropers gebruik
2011-01-28 09:08
Miljoene rande wat SANParke sowat twee jaar gelede tydens ’n veiling van 47 t opgepotte ivoor gekry het, gaan nou in die stryd teen renosterstropery gebruik word.
Dr. David Mabunda, uitvoerende hoof van SANParke, het gister in ’n verklaring gesê die geld gaan nou gebruik word om die DNS van elke renoster in Suid-Afrika op ’n databasis te kry.
SANParke, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die direktoraat vir prioriteitsondersoeke (DPCI) het saam met die departement van genetika by Onderstepoort toerusting ontwerp waarmee DNS-monsters van elke renoster in die land geneem kan word.
Mabunda het gister tydens die bekendstelling van die DNS-toerusting gesê Suid-Afrika het nou ’n nuwe wapen teen renosterstropers gekry.
“Dié toerusting sal voortaan gebruik word om DNS van gestroopte renosters te kry én om elkeen van dié diere in die land te dokumenteer. Dié DNS-toerusting sal ondersoekers help om die bewegings van ’n renoster wat gestroop is – mits sy inligting vroeër op die databasis aangebring is – te moniteer.
Net geregistreerde, professionele enkelinge sal toegang tot die databasis hê.
Mabunda het gesê die toerusting sal gratis aan alle renostereienaars gegee word. Volgens hom sal dit nagenoeg R1 680 kos om ’n enkele renoster se DNS te neem en dit op die databasis aan te bring.
Die finansiering van die projek sal deur SANParke en ander private finansierders behartig word. SANParke gaan die geld gebruik wat hy gekry het met die verkoop van die 47 t ivoor aan Chinese en Japanse handelaars in 2008. SANParke het destyds sowat R66 miljoen vir die ivoor gekry. Die ivoor het grotendeels gekom van olifante wat natuurlik dood is (55%), asook uitdunning (45%) wat van 1988 tot 1994 in die land gedoen is.
Adv. J.J. Kruger, hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad in die kantoor van die NVG, het gesê DNS-getuienis kan selde weerlê word en het in die verlede al tot skuldigbevindings in sulke gevalle gelei.
Hy het gesê tot dusver kon iemand wat met renosterhoring in sy besit betrap is bloot aangekla word van die onwettige besit van die horing. Met dié DNS-toerusting sal ’n verbintenis gemaak kan word tussen diegene wat die renosterhoring in hul besit het en die gestroopte karkas.
Die DPCI het gister ook aangekondig dié departement gaan ’n sentrale kommunikasiestelsel op die been bring sodat berigte oor renosterstropery by een sentrale punt behartig kan word.
Mabunda het gesê dié bewaringsowerheid gaan vanjaar klem lê op die arrestasie van sindikate én hy gaan ook ’n bewusmakingsveldtog begin om mense in te lig om nie dié misdadigers te ondersteun nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld