DA wil verregse groepe uitwys
2012-06-03 20:01
Johannesburg – Die Demokratiese Alliansie in Mpumalanga het Sondag gesê hy wil verskeie verregse groepe by die Menseregtekommissie verkla.
Dít volg op ‘n betoging Donderdag in Delmas.
Betogers het plakkate vasgehou wat gelui het: “Swart lafaards – los ons vroue en kinders uit”, “Steel, verkrag, moord: Ons is klaar met Swart Suid-Afrika” en “Barbare los ons kinders uit”, het die DA in ‘n verklaring gesê.
“Ons glo dat hierdie aanhitsende slagspreuke teen die verklaring van regte is,” het Anthony Benadie, DA-woordvoerder, gesê.
Die slagspreuke is ook in teenstryd met die grondwetlike imperatief dat “geen persoon direk of indirek onregverdig mag diskrimineer teenoor enigiemand [op grond van ras] nie,” het hy gesê.
Die party sal die Boere-Afrikaner Volksraad, die Volksraad Verkiesingskommissie (VVK), die Verkenners, die Republikeinse Vrouebeweging, die Kommandokorps, die Herstigte Nasionale Party (HNO) en die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) Maandag by die Menseregtekommissie verkla.
Die optog is georganiseer in protes teen die moord op ‘n versorger en ‘n baba in Delmas.
“Tragiese voorvalle” soos die dubbele moord moet egter nooit gebruik word om haatlike en diskriminerende ideologieë te promoveer nie, het Benadie gesê.
Suid-Afrikaners wat besorg is oor misdaad moet eerder vra vir gespesialiseerde misdaadbestrydingseenhede om opgestel te word binne die polisie, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA