DA wil ondersoek by psigiatriese hospitaal hê
2011-07-10 13:00
Kaapstad – Die DA in die Oos-Kaap wil die menseregtekommissie (MRK) vra om 'n volledige ondersoek te doen na beweerde menseregteskendings by die Komani psigiatriese hospitaal op Queenstown.
'n Afvaardiging, onder leiding van John Cupido, het die hospitaal besoek om op hoogte van die situasie te kom, het RSG berig.
Die besoek volg kort nadat twee bestuurders deur die LUR vir Gesondheid, Sicelo Gqobana, oor beweerde wanbestuur geskors is. Cupido het Gqobana geloof vir sy ingryping.
Daar is ook kommer oor wat by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto aan die gang is, nadat dit aan die lig gekom het dat die suurstoftoevoer na pasiënte doelbewus afgeskakel word.
Die premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, gaan die hospitaal Dinsdag besoek.
Sy sê sy het die polisie gevra om die ondersoek na die aantygings te prioritiseer.
Mokonyane sê sy is nie seker wat die beweegrede daarvoor is nie, maar dat dit uiters onaanvaarbaar is om suurstof van pasiënte te weerhou.
Sy sê diegene wat verantwoordelik is sal gestraf word.
Volg Nuus24 op Twitter.