DA vra OB om premier se huis te ondersoek
2011-03-17 13:25
Johannesburg – Die DA het die Openbare Beskermer (OB) gevra om ondersoek in te stel na die opgeknapte huis van die Gautengse premier Nomvula Mokonyane.
Volgens DA-woordvoerder Jack Bloom was dié opknappings glo baie duur.
“Ek het vandag (Donderdag) die Openbare Beskermer gevra om ondersoek in te stel na die beweerde buitensporige bedrag wat aan die opknapping van die amptelike woning van die Gautengse premier bestee is,” het Bloom in ‘n verklaring gesê.
Dié huis is in Bryanston, Johannesburg.
The Star het berig dat die huis in 2004 vir R11,5 miljoen gekoop is.
Sedertdien is sowat R12,2 miljoen glo op opknappings en herstelwerk spandeer.
“Ons kan nie bekostig om geld op luukshede te mors wanneer ander mense ly nie,” het Bloom gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.