'DA skep nie genoeg werk in Wes-Kaap'
2011-08-02 09:09
Kaapstad - 'n Beroep is Maandag op die nasionale regering gedoen om in die Wes-Kaap in te gryp omdat die “DA-regering versuim om werkloosheid te prioritiseer” en ekonomiese transformasie te bevorder.
Songezo Mjongile, provinsiale ANC-sekretaris, het ná die party se provinsiale bestuursvergadering die naweek gesê elke provinsiale begroting sal gefynkam word om vas te stel of dit wel gebruik word om die “ongelykheid van apartheid uit te wis, en of dit dié ongelykhede verskans”.
“Daar kan nie voortgegaan word met die herskep van ongelyke omstandighede nie,” het hy gesê.
Luidens die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se verslag oor ekonomiese vooruitsigte het die Wes-Kaap van die laaste kwartaal van 2010 tot die eerste kwartaal van 2011 sowat 18 000 werksgeleenthede geskep.
Maar volgens Marius Fransman, die ANC se provinsiale voorsitter, blyk dit uit die DA se toekenning van kontrakte dat die party nie werkskepping hoog op die agenda plaas nie.
“Daar is ’n kommerwekkende neiging in die provinsie om klein en middelslag-ondernemings as- ook swart kontrakteurs uit te sluit. Kyk byvoorbeeld na die behuisingsbegrotings waar slegs groot wit kontrakteurs kontrakte vir laekoste-behuising kry.”
Volgens hom dryf dit nie transformasie nie. “Dit is ’n aanslag op arm mense.”
Alan Winde, provinsiale minister van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het dié aantygings verwerp. “Die ANC moet sy huiswerk gaan doen. Ons is reeds besig om te kyk hoe verkrygingsprosesse van die regering gebruik kan word om SMME’s (klein, mediumgroot en mikro-ondernemings) verder te ontwikkel.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger