DA se syfers verkeerd, sê Sapd
2010-01-24 18:37
Kaapstad – Die Demokratiese Alliansie se syfers rondom die kostes van die nasionale polisiedag is “onder geen omstandighede waar nie,” het Bheki Cele, die nasionale polisiekommissaris se woordvoerder Sondag gesê.
“Ek het geen idee waar die syfers vandaan kom nie, die geleentheid is baie versigtig beplan. Ons neem die polisielede na Bloemfontein omdat hulle moraal ’n hupstoot verdien,” het Nonkululeko Mbatha, gesê.
“Ja, daar gaan sowat 50 000 polisiebeamptes teenwoordig wees, maar die DA weet nie dat daar 188 000 beamptes in Suid-Afrika is nie. Hulle praat van verblyf, maar die geleentheid vind net in een dag plaas.”
Die DA beweer dat die feesvieringe 50 000 beamptes van hulle pligte weerhou en dat die dag miljoene gaan kos.
Dianne Kohler Barnard, die party se minister van polisie het gesê dié dag gaan “een uit elke drie polisiebeamptes in die land vir drie dae van diens verwyder”.
Die geleentheid gaan glo 20 uit die 80 polisiestaties op diens hou.
“In Port Elizabeth gaan 650 beamptes glo na Bloemfontein toe. Gauteng gaan 10 000 beamptes te min hê en die Wes-kaap gaan sowat 6000 beamptes minder hê,” het Barnard gesê.
Die kostes beloop glo R420 per beampte vir vervoer na en van Bloemfontein. Dit laat die kostes verbonde aan die nasionale polisie dag reeds by R21 miljoen.
Sy het gesê die verbly, etes en vermaak moet ook in rekenskap geneem word.
Kohler Barnard het gesê gaan hulle vrae aan die parlement rig om die presiese bedrag te kry.
Mbatha het in reaksie hierop gesê die DA se syfers is verkeerd.
Die feesvieringe vind Vrydag plaas.
-Sapa