DA-plakkaat skok Christelike party
2012-01-24 12:58
Kaapstad – ‘n Plakkaat van die DA se studenteorganisasie (Daso) waarop twee mense van verskillende rasse in ‘n intieme posisie verkeer, is “skokkend”, het die Christelike demokratiese party (CDP) gesê.
“In ‘n stadium wat die land hoër vlakke van moraliteit benodig, loods die DA ‘n plakkaat wat duidelik seksuele immoraliteit bevorder,” het Theunis Botha, leier van die CDP, gesê.
“Daar is baie maniere waarop die DA sy beeld as ‘n nie-rassistiese party kon uitbeeld, eerder as om ‘n plakkaat te gebruik wat duidelik seksuele losbandigheid bevorder.”
Botha sê die plakkaat is “onsmaakvol” en ‘n belediging tot die talle mense, swart en wit, wat goeie morele waardes het.
“In ‘n land met hoë vlakke van vigs en ‘n oordosis misdaad – veral in die hoë voorvalle van plaasmoorde vanjaar – stuur hierdie plakkaat die teenoorgestelde boodskap wat die land benodig.”
Die plakkaat lees: “In our future you wouldn't look twice” (In ons toekoms sal jy nie twee keer kyk nie).
Sosiale netwerke het Maandag gegons nadat Makashule Gana, jeugleier van die DA, die plakkaat aanlyn gepubliseer het.
Gana sê die plakkaat is deel van ‘n veldtog om ‘n debat oor ras te skep.
“Om te sê dat die plakkaat seksueel is, is besig om dit na die ekstreem te vat. Die plakkaat sê baie. Hulle omhels mekaar en dit wys in hierdie land dat ons ‘n geleentheid het om mekaar te omhels.”
“Ek weet nie hoekom daar negatiewe kommentaar daaroor is nie. Dit is ‘n kunswerk wat ‘n toekoms uitbeeld wat ons [die DA] wil bou.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA