DA ondersoek wel LP se reis-eise
2011-07-14 08:07
Kaapstad - Die DA-LP dr. Manie van Dyk se omstrede reiseise word wel deur sy party ondersoek.
Só het James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, Woensdag by navraag gesê.
“Nuwe getuienis teen dr. Van Dyk het die federale regskommissie laat besluit daar is wel ’n prima facie-saak en hy moet verduidelik.”
Selfe wou nie uitwei oor die sogenaamde “nuwe getuienis” teen Van Dyk nie, maar na verneem word, hou dit verband met onlangse beriggewing van Media24 se ondersoekspan.
Daarin het aan die lig gekom dat ’n groot deel van Van Dyk se eise in 2009 vir reise van sy volwasse dogter, Wanya Downing, en haar destydse verloofde was.
’n Herrie het verlede jaar in September om Van Dyk se kop losgebars nadat onthul is dat hy R275 000 se motor-eise by die parlement ingedien het nadat hy padlangs tussen Kaapstad en Johannesburg gereis het, pleks daarvan om lugreiskoepons te gebruik.
LP’s kon sowat R12 000 vir padreise eis, terwyl ’n retoervliegtuigkaartjie tussen R5 000 en R6 000 sou kos.
Van Dyk hou voet by stuk dat hy geen reëls oortree het nie. Pogings om Woensdag met hom in verbinding te tree, was vergeefs.
Die DA het die afgelope tien maande ’n eierdans oor Van Dyk se doen en late uitgevoer.
Hendrik Schmidt, DA-LP en voorsitter van die party se regskommissie, het in Oktober verlede jaar gesê Van Dyk gaan daarvan aangekla word dat hy die DA se federale grondwet oortree en die party in oneer gebring het. Schmidt het toe gesê ’n “klagstaat” moes nog teen Van Dyk opgetrek word.
Toe die party in Junie vanjaar met die Van Dyk-kwessie gekonfronteer is, het hy ’n ander deuntjie gesing.
Daar is toe aangevoer daar is nie ’n etiese kode vir die gebruik van reis- en ander voordele nie en dat daar geen gronde is waarop teen Van Dyk opgetree kon word nie.
Nadat die jongste bewerings teen Van Dyk oor die reis-eise vir sy dogter op die lappe gekom het, het Natasha Michael, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, teruggekrabbel en gesê sy doen en late word wel ondersoek.
Selfe het gister alle twyfel uit die weg geruim en amptelik bevestig dat Van Dyk op die rooi tapyt sal verskyn.
“Die klagte teen hom is nog nie geformuleer nie, maar dit sal binne die volgende week of so gebeur,” het Selfe gesê.
- Volksblad