DA nader OB oor ANC-fees
2011-11-18 08:08
Bloemfontein – Die Vrystaatse DA het die openbare beskermer (OB) gevra om die provinsiale regering se besteding aan die ANC-eeufeesviering te ondersoek.
Roy Jankielsohn, provinsiale DA-leier, het Donderdag ’n brief aan adv. Thuli Madonsela geskryf waarin hy versoek dat haar kantoor die miljoene rande wat begroot is in verskeie departemente se begrotings, ondersoek.
“Verskeie politici, onder andere die premier en die LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, Dan Kgothule, het in die Vrystaatse wetgewer melding gemaak van die miljoene rande wat die provinsiale regering aan die eeufees gaan bestee,” het Jankielsohn geskryf.
Jankielsohn vra in die brief wat sou met die geld gedoen word indien daar nie ’n eeufeesviering was nie.
Die ANC vier aanstaande jaar sy eeufees in Bloemfontein waar die party in 1912 gestig is.
Die party verwag sowat 120 000 mense in die feesnaweek van 5 tot 9 Januarie.
“Die OB het voorheen gesê die gebruik van geld uit die staatskas vir partypolitieke aangeleenthede is onaanvaarbaar.”
Jankielsohn sê die DA wens die ANC geluk met die mylpaal, maar belastingbetalers se geld kan nie gebruik word vir die vieringe, of om infrastruktuur aan te koop of op te knap vir partypolitieke doeleindes nie.
Jankielsohn het die OB gevra om ook ondersoek in te stel na die aanwending van staatshulpbronne, benewens geld, vir die fees.
Die Vrystaatse regering gaan meer as R400 miljoen bestee aan infrastruktuur vir die fees.
Meer as 60 staatshoofde besoek die Rosestad in dié tyd om saam partytjie te hou.
Sibongile Besani, ANC-sekretaris in die Vrystaat, het vroeër gesê die aanloop tot die vieringe begin al in Desember met sportbyeenkomste, gedenk-lesings en skoonmaakaksies.
Hy het gesê Bloemfontein sal die “veiligste plek in Afrika” wees danksy die duisende polisielede en soldate wat ontplooi gaan word.
Hoogtepunte op die program sluit, benewens die gebruiklike 8 Januarie-toespraak, onder meer ’n presidensiële banket en ’n kerkdiens in.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad