DA mors R2 miljoen op regsgeding – ANC
2010-10-15 09:20
Kaapstad - Die DA het bykans R2 miljoen se belastingbetalersgeld op onnodige regskoste in die geding om die Overberg-distriksmunisipaliteit vermors, het die ANC Donderdag gesê.
“En die rekening lóóp nog,” het Cobus Grobler, ANC-woordvoerder, bygevoeg.
Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Donderdag dié geraamde bedrag as “duimsuig-syfers” afgemaak.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof het vandeesweek Bredell se besluit om die hele Overberg-distriksmunisipaliteit se raad in Julie te ontbind, tersyde gestel.
Die minister het die raad ontbind en ’n administrateur aangestel om sake by die munisipaliteit reg te ruk.
Die hof het dié besluit as ongeldig en ongrondwetlik verklaar, maar die DA appelleer nou.
Mandla Dlamini, ANC-woordvoerder, het Donderdag gekap na wat hy noem ’n “duidelike patroon van DA-minagting van die Grondwet en hofuitsprake” is.
Randy Pietersen, lid van die ANC se provinsiale taakspan, het gevra hoe dit moontlik is dat ’n munisipaliteit wat reeds as die bes bestuurde munisipaliteit aangewys is binne maande só kan val dat dit ’n ontbinding van die hele raad verg.
Bredell het Donderdag teruggekap en gesê dit is totaal belaglik dat die kwessie nou in ’n DA-versus- ANC-geding ontaard.
“Ek het opgetree in ’n munisipaliteit op grond van my interpretasie van wetgewing. Die appèl is nodig om uitsluitsel te gee oor die Munisipale Finansiële Bestuurswet asook die oorsigrol van die departement oor munisipaliteite – anders mag dit ons in die toekoms meer geld kos.”
- Die Burger