DA kap inhegtenisneming van joernaliste
2010-12-31 21:17
Johannesburg - Die DA het Vrydag die inhegtenisneming van twee joernaliste van die Sowetan veroordeel en gesê ‘n ondersoek na moontlike korrupsie by die Hillbrow-polisiekantoor moet geloods word.
“Dit is ‘n ontstellende geval van intimidasie deur die polisie wat die reg moet verdedig, nie ondermyn nie,” het Jack Bloom, DA-LPW, gesê.
“Daar moet ‘n volledige ondersoek na hierdie voorval, asook moontlike korrupsie by die Hillbrow-polisiekantoor, wees,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Die joernaliste is Woensdag in hegtenis geneem en hulle is vir ongeveer ‘n uur aangehou.
Daar is beslag op hul toerusting en selfone gelê. Dit is eers die volgende dag aan hulle terugbesorg nadat regsverteenwoordigers ingegryp het.
Die Sowetan-koerant het Vrydag berig die joernaliste het ‘n storie gedek oor die onwettige uitsetting van nege families.
Luidens die berigte het die polisie in Hillbrow ondanks ‘n beslissing deur ‘n regter in die Hooggeregshof geweier om die families te help om weer by hul woonstelle in Regal Court in te kom.
Die hof het beveel dat die eienaar van die gebou die families weer in hul woonstelle moet inlaat.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA