DA gekap omdat party nie met joernalis wil praat
2011-02-12 08:22
Johannesburg - Mediawaghonde en politieke partye is die josie in vir die DA nadat dit aan die lig gekom het dié party het ’n joernalis van sy verspreidingslys afgehaal omdat hy nie van haar manier van verslaggewing hou nie.
“Dis ’n klap in die gesig van mediavryheid,” het Mondli Makhanya, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), in ’n verklaring gesê.
Die DA het in Augustus verlede jaar geweier om verder met Anna Majavu, die Sowetan se politieke korrespondent in die Kaap, te korrespondeer omdat die party glo sy het ’n “politieke agenda” weens haar vorige werk as woordvoerder van die munisipale vakbond Samwu.
Ross van der Linde, DA-woordvoerder, het vroeër aan die Sowetan bevestig hulle het hul kommunikasie met Majavu verbreek. “Majavu is nie ’n joernalis nie.
“Sommige joernaliste en redakteurs stem nie saam met ons beleid en sienings nie en hulle is daarop geregtig. Maar Anna Majavu is ’n voormalige Samwu-beeldpoetser met ’n politieke agenda.”
Die DA is volgens Van der Linde nie verplig om inligting aan enige individu of organisasie te stuur nie.
Organisasies vanuit alle oorde het Vrydag hul misnoeë te kenne gegee. Woorde soos “kinderagtig”, “wraaksugtig” en “skynheilig” is van dié wat hulle gebruik het om die DA se optrede te beskryf.
“Die DA se besluit is sonder oorleg gepleeg en skep ’n baie gevaarlike presedent,” het die parlementêre Persgalery-vereniging (PGA) in ’n verklaring gesê.
“Daar is geen verskil tussen dié gedrag en dié van Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, wat ’n BBC-verslaggewer uit ’n mediakonferensie gejaag het nie – ’n daad wat die DA ten sterkste veroordeel het.”
Tahir Semna van Samwu het gesê: “Die DA is met opset besig om verslaggewers te teiken wat oor sensitiewe sake in hul organisasie verslag doen.”
Die probleme tussen Majavu en die DA het glo in Augustus verlede jaar ontstaan toe sy berig het oor Pieter van Dalen, ’n DA-lid, wat glo tydens die xenofobiese aanvalle in 2008 saam met metropolisiebeamptes op twee kinders in Khayelitsha geskiet het. In haar berig het sy na die kinders as swart verwys.
Die DA het ’n klag daaroor by die persombudsman ingedien, wat dit verwerp het. Volgens Majavu het die DA haar naam daardie dag van sy verspreidingslys verwyder.
Van der Linde het nie Vrydag op oproepe en boodskappe gereageer nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld