DA gaan ‘SAUK se verkoop van nuusdekking’ ondersoek
2010-09-02 06:59
Kaapstad – Die DA gaan ondersoek instel na bewerings dat die SAUK nóg provinsies buiten die Wes-Kaap genader het om vir nuusdekking te betaal.
Dit kom nadat die openbare uitsaaier blykbaar voorgestel het dat die Wes-Kaapse regering ’n tydgleuf in die program Interface kry in ruil daarvoor dat die SAUK se produksiekoste vir die spesifieke uitsending betaal word.
Niekie van den Berg, DA-woordvoerder oor kommunikasie, het gister in ’n opvolgverklaring oor die kwessie gesê hy gaan DA-LPW’s in ál die provinsies vra om by hul onderskeie premiers uit te vind of die SAUK soortgelyke aanbiedinge aan hulle gedoen het.
“Indien wel, wil ons weet hoeveel betaal is en wie besluit het belastingbetalersgeld mag vir die programme gebruik word.”
Van den Berg het voorts uitgevaar teen die “onetiese joernalistiek” wat die SAUK beoefen.
Dit kom nadat die Cape Times gister berig het Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, het blykbaar gesê dit is “normaal vir die openbare uitsaaier om van die regering geld vir geriewe te ontvang wanneer hy nuusdekking op programme soos Interface en Morning Live kry”.
Van den Berg het by navraag gesê die SAUK sal gewis geloofwaardigheid inboet wanneer hy sulke promosie-tipe produksies – waarvoor hy betaal word – uitsaai op programme wat veronderstel is om ’n ernstige nuusinhoud te hê.
’n Erg omgekrapte Kganyago wou gister geen vrae oor dié bewerings beantwoord nie.
“Ek is baie geïrriteerd,” het hy aan Die Burger gesê. “Van den Berg grond sy stellings op ’n koerantberig. Dis sy keuse as hy dit as die waarheid wil aanvaar.”
Kganyago het gesê hy verstaan nie waarom die DA ’n bohaai oor veral dié kwessie opskop nie.
“Die SAUK het die voorstel aan die Wes-Kaapse regering gedoen en nie aan die DA nie. Van wanneer af is die Wes-Kaapse regering gelyk aan die DA?”
Die SAUK het gistergesê die program sou ’n “spesiale produksie” wees om nóg stukrag aan die Wêreldbeker-gees te gee.
“Die provinsiale regering sou net vir die eksterne produksiekoste betaal het – nie ’n sent sou in die SAUK se sak beland het nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger