DA fokus op Malema-tenders
2012-10-26 17:21
Johannesburg – Die DA sal ‘n klagte by die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, indien teen regeringsamptenare van Limpopo wat glo tenders vir die verskaffing van dienste aan skole aan vennote van Julius Malema, voormalige leier van die ANC jeugliga, toegeken het.
“Solank die stand van sake dieselfde bly, sal korrupsie in ons provinsie 'n permanente werklikheid bly. Intussen wil ons geregtigheid hê as korrupsie blootgelê word,” het Desiree van der Walt, DA-woordvoerder, gesê.
Die klagte sal gelê word teen Dickson Masemola, LUR vir onderwys, en die departement van onderwys in Limpopo, wat ‘n tender van sowat R40 miljoen glo op onwettige wyse aan Malema se vennote toegeken het.
Die Mail and Guardian het Vrydag beweer dat Malema se lyfwag, sy voormalige bestuurder, sy neefs en sy vennote almal voordeel getrek het uit die skole-voedingsprogram van R1,7 miljard.
Die kontrak is glo aangepas om Malema se vennote te begunstig. Malema het ook glo ‘n lys van verskaffers aan Masemola oorhandig. Malema ontken dat hy die lys aan Masemola gestuur het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA