DA en IVP in hof oor straatname
2009-08-25 20:30
Durban – Daar was nie behoorlike raadpleging gedurende die herbenaming van Durban se strate deur die eThekwini munisipaliteit nie, is Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof gehoor.
Die DA en die IVP het die hof gevra om die proses wat tot Durban se kontroversiële nuwe straatname gelei het om te keer.
Hulle het aangevoer dat die munisipaliteit, wat deur die ANC bestuur word, die publiek in die proses uitgesluit het om hul eie politiese doelwitte te bereik.
Advokaat Pat Jeffreys het namens die DA en die IVP gesê dat sy kliënte glo dat die munisipaliteit die publiek se reg teen onregverdige diskriminasie in terme van kultuur en vryheid van spraak van hulle ontneem het .
Die munisipaliteit het ook nie name wat deel uitmaak van geskiedkundige, kulturele en taal erfenis behou nie.
Hy het aan die hof gesê dat die munisipaliteit nie opgelees het oor die geskiedenis van die bestaande straatname nie.
Regter David Ntshangase het na drie ure die hof verdaag aangesien daar nie genoeg tyd was vir die munisipaliteit om hul saak te stel nie.
‘n Nuwe hofdatum sal binnekort bekendgemaak word.
- Reuters