DA: Waterkloof-2 se parool 'onwettig'
2011-12-16 14:30
Johannesburg – Die besluit om parool aan twee lede van die sogenaamde Waterkloof-vier toe te staan is onwettig en moet teengestaan word, het die DA Vrydag gesê.
James Selfe, DA-LP, het gesê die besluit om die twee vry te laat en onder huisarres te plaas, is gemaak nadat die departement van korrektiewe dienste aan die voorsitter van die Zonderwater-paroolraad gesê het die aanbeveling is onwettig.
"In terme van 'n vroeëre hofbeslissings kan vonisse slegs omgeskakel word indien 'n gevangene minder as vyf jaar oor het van sy of haar vonnis," het Selfe gesê.
"Beide aanbeveling van die paroolraad en die beslissing van die Pretoriase streekhof, is dus verkeerd en moet tersyde gestel word."
Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk se tasse was Donderdag gepak om huis toe te gaan nadat hul vonnisse in korrektiewe toesig omgeskakel is, het Beeld vroeër berig.
Maar hul, en hul gesinne, se vreugde was van korte duur toe die departement van korrektiewe dienste hulle in weerwil van ’n hofbevel nie Donderdagmiddag vrygelaat het nie. Hulle het Donderdagaand weer in die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan geslaap.
Zacharia Modise, hoofadjunkkommissaris: korreksies van korrektiewe dienste, het verduidelik dat hulle nie vrygelaat is soos die hof beveel het nie, omdat daar “heelwat aspekte is wat in ag geneem moet word”.
Hy het gesê die hofbeslissing is na die departement se regspan gestuur om “te bekyk”.
Selfe het gesê hy het met die departement gepraat, wat hom verseker het dat sy regsadviseurs die hofuitspraak bestudeer met die doel om te appelleer.
Tiedt en Van Schalkwyk is in Augustus 2008 saam met Christoff Becker en Frikkie du Preez tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding op ’n hawelose man, en die moord van ’n ander.
Volgens berigte sou die regsverteenwoordigers van al vier Vrydag 'n dringende appèl om hul vrylating by die hooggeregshof in dien, maar Modise sê hy is nie bewus van die appèl nie.
Selfe het gesê indien die beslissing deurgaan, moet die vonnisse van Becker en Du Preez ook omgeskakel word..
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA