DA: Selebi moet die 'eerbare' ding doen
2011-12-02 11:17
Johannesburg – Jackie Selebi, voormalige nasionale polisiehoof, moet die eerbare ding doen en homself by die naaste polisiekantoor oorgee om sy vonnis te begin, het die DA Vrydag gesê.
"Dit is die einde van seker die mees omstrede en nasionaal vernederende hofsake wat Suid-Afrika ooit ervaar het," het Dianne Kohler-Barnard, DA-LP en -woordvoerder oor polisie, gesê nadat Selebi se appèl teen sy skuldigbevinding misluk het.
"Hy was die hoof van Interpol toe hy in hegtenis geneem is," het sy gesê.
Kohler-Barnard wou hy Nathi Mthethwa weet wat gaan gedoen word om die R17,4 miljoen wat op die saak spandeer is, terug te kry.
"Ek wil ook vra dat Jackie Selebi die eerbare ding doen en homself by die naaste polisiekantoor oorgee."
Selebi is verlede jaar skuldig bevind op aanklag van korrupsie en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Die appèlhof het Vrydag sy aansoek om appèl verwerp en bevind dat die woorde "cash JS", "A", "cash cop" en "cash chief" op tjekteenblaaie na Selebi verwys.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA