DA: Staat se reklameplan is “misbruik”
2011-06-10 15:36
Johannesburg – Die regering se plan om publikasies wat positief oor die staat berig met advertensiegeld te beloon, is “blatante magsmisbruik”.
Dit was Vrydag die reaksie van die DA op kommentaar deur die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi.
Volgens DA LP Natasha Michael is die planne “duidelik daarop gemik om die vrye media in ‘n propagandamasjien vir die regering te verander.”
Michael meen die sentralisasie van die regering se reklamebegroting onder die regeringskommunikasiediens (GCIS) sal dié beheerliggaam die mag gee om sekere media te ignoreer na aanleiding van dit waaroor hulle berig.
“Manyi het gister verwys na ‘die rol wat ons wil hê die media moet speel – om inligting oor die regering oor te dra.’”
Sy opmerking wys dat die regering nie die rol van ‘n onafhanklike media ag nie, en onderskryf die staat se “kommerwekkende onverdraagsaamheid jeens kritiek,” het sy gesê.
Luidens berigte het Manyi Donderdag, tydens die bekendstelling van die plan, die media gevra om nie bloot kritiek te lewer nie, maar om die belangrike inligting aan Suid-Afrikaners oor te dra wat hulle verdien om te weet.
Die woordvoerder het sy kommer uitgespreek omdat sommige media-organisasies informasie deur die regering kritiseer in plaas daarvan om dit aan die publiek oor te dra.
Die staat verwelkom kritiek, maar dit is belangrik dat die media regeringsinligting “oordra,” veral wanneer dit oor dienslewering handel.
Sou die reklameplan goedgekeur word, sal dit beteken dat die regering “terugkeer na ‘n gesentraliseerde benadering tot media-aankope.”
In reaksie het Michael namens die opposisie gesê dat alles in die DA se vermoë gedoen sal word om die outoritêre houding van die regering teenoor die vrye vloei van inligting teen te kamp.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA