DA, OD se huwelik blom in Botrivier
2010-11-14 06:44
Rapport
Die DA en die OD het Woensdag in die Overbergse dorpie Botrivier gewys deur saam te werk kan hulle soveel meer doen teen die ANC.
Botrivier is die gehuggie teen die berg wat jy sien by die plek waar die Hermanus-pad uit die N2 draai aan die onderpunt van die Houwhoekpas tussen Grabouw en Caledon.
Saam met ’n paar plase bo die pas vorm dit wyk 7 van die munisipaliteit Theewaterskloof, wat setel in Caledon.
Die gewoonlik taamlik dooierige Botrivier was Woensdag die toonbeeld van raserige politieke baldadigheid toe die DA, die ANC en Cope mekaar gepak het om beheer van die wyk.
Die wyk se raadslid was tot onlangs James Pheiffer van die OD. Hy het egter bedank uit protes teen die huwelik tussen die DA en OD en hierdie keer as ANC-kandidaat gestaan.
Hy was dus in dieselfde posisie as die twee voormalige OD-raadslede van Oudtshoorn wat die DA verlede maand geklop het toe hulle as ANC-kandidate gestaan het.
Dit het die vraag laat ontstaan of die ANC terug is op die wenpad, en of voormalige OD-ondersteuners die ANC eerder as die DA sou steun.
Die DA het die naweek groot kanonne soos Helen Zille, partyleier, en Patricia de Lille, OD-leier, stemme laat werf en die ANC het min. Tina Joemat-Pettersson (landbou) en premier Hazel Jenkins van die Noord-Kaap as stemwerwers ingestuur.
Woensdag se uitslag in Botrivier was egter anders as in Oudtshoorn. Pearl Stanfliet (DA) het Pheiffer met 1 015 stemme (55%) teen 677 (36%) ontsetel, met Cope wat ’n verrassende 150 (8%) getrek het.
Vergeleke met steunvlakke in die wyk tydens die algemene verkiesing verlede jaar, toe die DA 30% van die stemme getrek het en die ANC 28%, het die meeste OD-steun, anders as in Oudtshoorn, dus aan die DA gegaan.
Opvallend in Woensdag se verkiesing was die rol van Shaun August, die OD se bobaas-organiseerder, om partywerkers aktief te laat kiesers haal vir die DA, en De Lille se harde werk om plaaswerkers vir die DA by die stembus te kry.
Botrivier is ’n arm gemeenskap waar baie strate nie geteer is nie.
Dit was duidelik dat die politieke spanning hoog loop en die eerste fisiese onderonsie het reeds voor 08:00 uitgebreek, met ’n stewige opstootjie in die middag en die polisie wat tussenbeide moes tree.
Kiesers met wie Rapport gepraat het, wou almal hê hul party moet hul lot verbeter.
DA-ondersteuners het skoon bestuur bo ANC-korrupsie beklemtoon en ANC-kiesers meen die DA stel wittes se belange bo ander mense s’n.
- Rapport