DA: Misdaadstatistieke in Gauteng moet bekendgemaak word
2013-01-23 17:29
Johannesburg – Die inhegtenisname van 45 000 mense in Gauteng sedert September is nie genoeg in die geveg teen misdaad in die feesseisoen nie, het die DA Woensdag gesê.
“Die hoeveelheid mense wat in hegtenis geneem is, is ‘n weerspieëling van die pogings en vermoë van die polisie om kriminele vas te trek, maar die afwesigheid van statistieke oor die hoeveelheid misdade wat aangemeld is, is kommerwekkend,” het John Moodey, DA-LP, gesê.
“Sonder betroubare syfers van misdade wat tydens die veldtog in Gauteng gepleeg en aangemeld is, kan ons nie die polisie se vermoë om misdade raak te sien en te verhoed effektief assesseer nie.”
Die polisie het sy teen-misdaad-veldtog “Operation Duty Calls” op 15 September bekendgestel. Dit duur tot 31 Januarie.
Sewe basiskampe is vir die duur van die veldtog in die provinsie opgestel.
Lt.genl. Mzwandile Petros, die provinsiale polisiekommissaris, het Dinsdag gesê die inhegtenisnames was vir misdade wat roof, verkragting, ontvoering, moord, bedrog en winkeldiefstal insluit.
Die polisie het meer as 411 500 liter alkohol gekonfiskeer en beslag gelê op 3 346 onwettige vuurwapens en meer as 47 rondes ammunisie. Hulle het ook 2 437 gesteelde motors terug gevind.
Moodey het die poging geprys, maar het Petros uitgedaag om die statistieke vir die hoeveelheid en tipes misdade wat tydens die feesseisoene van 2011/12 en 2012/13 by polisiestasies in Gauteng aangemeld is aan die publiek bekend te maak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA