DA-LP staan vas agter Mazibuko
2011-10-26 07:58
Kaapstad – Die parlementslid wat daarop aanspraak maak dat sy die mees Afrikaanse kiesafdeling in die land in die DA se parlementêre koukus verteenwoordig, steun Lindiwe Mazibuko in haar poging om Donderdag tot die party se parlementêre leier verkies te word.
Dr. Ena van Schalkwyk, LP vir die Hantam en die Bo-Karoo, verteenwoordig die gebied van Nieuwoudtville tot Vosburg in die Noord-Kaap, ’n gebied wat volgens haar sowat 99,9% Afrikaanssprekend is, en waar DA-lede haar gevra het om haar kruisie vir Mazibuko te trek.
“Dit is tyd vir ons om hierdie geloofsprong te maak. Ons wag al so lank vir ’n persoon met al Lindiwe se eienskappe en vaardighede. In my kiesafdeling voel kiesers baie sterk dat Afrikaans tot sy reg moet kom en dat Afrikaanse belange nie uitgerangeer moet word nie.
“Ná gesprekke met Lindiwe is ek tevrede dat sy ook Afrikaanse belange op die hart dra en dit nie sal afskeep nie. Ek is dus tevrede dat ek aan die voorkeur van my kiesafdeling uiting kan gee en die DA kan help vorentoe neem deur my kruisie vir Lindiwe te trek.”
Mazibuko het Dinsdag ’n videogreep uitgereik waarop sy haar boodskap in Afrikaans lewer. Dit is te sien by www.beeld.com en www.dieburger.com en Die Burger se iPad-app.
Mazibuko het Dinsdag op ’n mediakonferensie op die trappe van die Nasionale Vergadering gesê die wedloop is kop aan kop, maar dat sy meen genoeg van die DA-LP’s steun haar veldtog dat sy ’n goeie kans het om te wen.
Mazibuko het die versekering gegee dat daar beslis ’n plek sal wees vir Athol Trollip op die prestigeryke voorste bank van die parlement indien sy wen.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad