DA-LP sê weer Zille is soos 'n diktator
2012-01-27 07:00
Kaapstad – Masizole Mnqasela, die DA-LP wat volgende week op verskeie klagtes voor ’n interne tugverhoor verskyn, het Donderdag opnuut vir Helen Zille, DA-leier, van diktatoriale neigings beskuldig.
Mnqasela het verlede jaar die nuus gehaal toe hy stemme probeer werf het vir Athol Trollip in Trollip se kragmeting met Lindiwe Mazibuko om die parlementêre leiersposisie van die DA.
Hy het toe onder meer gesê as jy jou oë toemaak, klink Mazibuko soos ’n wit persoon.
Donderdag het hy ’n ope brief aan Zille gestuur waarin hy nogmaals haar ondersteuning van Mazibuko gekritiseer het.
“Die onderskrywing van ’n kandidaat deur ’n huidige of voormalige leier maak nie die speelveld gelyk nie en herinner ’n mens aan baie leiers oor wie gesê word dat hulle diktatoriale neigings gehad het,” skryf Mnqasela.
Hy beskryf homself in die brief as ’n “patriotiese, dapper, nierassige gemeenskapswerker en aktivis, ’n reguit persoon wat progressief pragmaties is in gedagte, woord en daad”.
Dan haal hy aan uit ’n meningstuk wat Zille onlangs geskryf het toe hy (Mnqasela) tereggestaan het op aanklagte van verkragting en waarin sy beweer het hy word verkeerdelik vervolg.
Mnqasela meen dis nou weer die geval, maar hy meen Zille se mening van hom het verander weens die mag wat die DA nou in Kaapstad en die Wes-Kaap geniet.
Sonder om op die klagtes in te gaan, vra hy of hulle sou bestaan het as daar nie ’n leierstryd in die DA was nie.
Zille was Donderdagaand op ’n vliegtuig en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger