DA: Cele se skorsing is 'tree in regte rigting'
2011-09-25 14:01
Johannesburg – ‘n Berig dat die polisiekommissaris Bheki Cele in die komende week geskors gaan word is ‘n tree in die regte rigting, het die DA Sondag gesê.
“Ons vind dit buitengewoon dat die presedensie so lank geneem het om teen Cele op te tree nadat die openbare beskermer [Thuli Madonsela] beslis het dat hy skuldig is aan wanadministrasie,” het Diane Kohler Barnard, DA-LP, gesê.
Die Sunday Times het berig dat Cele na verwagting hierdie week ‘n finale skorsingsbrief sou ontvang wanneer president Jacob Zuma terugkeer na Suid-Afrika ná ‘n besoek aan die VSA.
Madonsela se eerste verslag, wat in Februarie bekend gemaak is, was oor haar ondersoek oor die Sanlam-middestad-gebou in Pretoria wat vir R500 miljoen verhuur is.
Haar tweede verslag het die R1,1 miljard ooreenkoms ondersoek om die Transnet-toring in Durban te verhuur.
Sy het gevind dat die huurooreenkoms, wat saam met die sakeman Roux Shabangu geteken is, op ‘n onwettige en swak wyse afgehandel is en dat Cele en Gwen Mahlangu Nkabinde, die minster van openbare werke, verantwoordelik gehou moes word.
Madonsela het ‘n beroep op Zuma gedoen om aksie teen hulle te neem.
Mac Maharaj, die presidensiële woordvoerder, het verlede week gesê Zuma neem die verslag baie ernstig op en dit is hoekom hy besluit het om nie ‘n oorhaastige besluit te neem nie.
Kohler Barnard sê dat as die berig in die Sunday Times waar is sal dit net gepas wees dat ‘n ervare beampte wat sy of haar pad in die polisierange opgewerk het in die pos aangestel moet word.
Die laaste twee “burgers” wat in die pos aangestel was, was toegegooi onder skandale, het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA