D-dag vir Selebi
2011-12-05 07:00
Kaapstad – Maandag is D-dag vir “’n baie, baie kritiek siek” Jackie Selebi, korrupsie-veroordeelde en gewese nasionale polisiehoof.
Sy regspan en die griffier van die hooggeregshof in Johannesburg sal vanoggend samesprekings voer oor of Selebi toegelaat sal word om in die Jakaranda-hospitaal in Pretoria aan te bly en of hy na ’n tronk-hospitaal oorgeplaas moet word.
Medici sal ook waarskynlik vandag ná verskeie toetse wat tot gister gedoen is, presies kan sê wat Selebi oorgekom het toe hy ineengestort het kort nadat die appèlhof se uitspraak Vrydag gelewer is waarin sy skuldigbevinding aan korrupsie bekragtig is.
’n Besluit sal moontlik ook vandag geneem word of Selebi gaan aansoek doen om sy appèlborg te laat verleng met die oog op ’n moontlike appèlaansoek in die konstitusionele hof.
Wynanda Coetzee, Selebi se prokureur, het gister gesê sy het Selebi Saterdagaand in die hospitaal besoek, maar hy kon weens die erns van sy siekte “hoegenaamd geen instruksies aan my gee oor hoe hy wil hê ons die saak moet hanteer nie”.
Coetzee het gesê Selebi is “regtig baie, baie kritiek”.
“Sy toestand is kommerwekkend. Ek het die departement van korrektiewe dienste volledig daaroor ingelig. Ek het ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oor mnr. Selebi se toestand ingelig.
“Ons sal vandag met die griffier van die Johannesburgse hooggeregshof praat om by ’n punt te probeer uitkom oor hoe ons die geval verder moet hanteer.
“Al wat ek wel weet, is dat ons en mnr. Selebi op geen manier die reg of enige wet sal probeer omseil nie. As die opdrag is dat hy tronk toe moet gaan, sal dit gedoen word.”
Sy sê ’n ander opsie wat beskikbaar is, is om ’n dringende aansoek vandag in die Johannesburgse hooggeregshof te bring waarin gevra sal word dat Selebi se appèlborgvoorwaardes gewysig word sodat hy nie binne 48 uur ná Vrydag se uitspraak hoef aan te meld nie.
Op ’n vraag of die Selebi-geval ’n “tweede Schabir Shaik-geval” gaan wees, het Coetzee gesê “hoegenaamd nie”. “Mnr. Selebi se siekte kom ’n lang pad en hy het algaande versleg.”
Coetzee het gesê sy kan weens ’n versoek van die Selebi-familie nie reageer op bewerings dat hy Parkinson se siekte het, ’n beroerte gehad het of selfs kanker het nie.
“Ek kan net bevestig dat hy lankal intensiewe behandeling kry.”
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, het Sondag gesê wat die NVG betref, is die “Jackie Selebi-dossier nou toegemaak”.
“Ons het geen betrokkenheid meer by die saak nie. Dit is nou in die hande van die howe, korrektiewe dienste en mnr. Selebi,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger