D-dag vir Selebi
2011-12-02 08:00
Kaapstad – Jackie Selebi, die voormalige nasionale polisiehoof, sal vandag weet of hy 15 jaar tronk toe moet gaan weens korrupsie.
Die vyf appèlregters wat begin November Selebi se appèl teen sy skuldigbevinding in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor het, het laat blyk hulle sal vandag uitspraak lewer.
Selebi het nie toestemming gekry om teen sy vonnis van 15 jaar in die hooggeregshof appèl aan te teken nie. Hy kon net appelleer op twee beperkte vrae: of daar ’n korrupte verhouding tussen hom en die omstrede Glenn Agliotti was, en of hy (Selebi) deur Agliotti vergoed is in die proses van korrupsie.
As die appèlregters, soos regter Meyer Joffe in die hooggeregshof, dié twee vrae positief beantwoord, bly daar net twee uitweë vir Selebi oor: Hy kan dadelik begin om sy vonnis uit te dien, of hy kan van sy reg gebruik maak om aansoek om appèl in die konstitusionele hof te doen. In laasgenoemde geval sal hy die regters van die konstitusionele hof moet oortuig dat grondwetlike kwessies in sy verhoor ter sprake is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger