Cullinan-diamant haal R48 milj.
2009-11-27 10:22
Johannesburg – ‘n 168 karaat wit Cullinan-diamant is vir sowat R48 miljoen ($6.28 miljoen) verkoop, het die diamantverskaffer, Petra Diamonds, Vrydag gesê.
Die diamant, wat glo van uitstekende kwaliteit en kleur is, is deur ‘n onbekende koper opgeraap vir sowat R285 000 ($37 380) per karaat.
Behalwe vir hierdie bielie van ‘n diamant is daar nog drie ander diamante wat kopers aan die gons het. Dit sluit in ‘n 507.55 karaat diamant, wat nog nie te koop aangebied is nie, asook twee diamante van 58.50 en 53.50 karaat wat in November vir sowat R21 miljoen ($2.8 miljoen) verkoop is.
Die Cullinan-myn het reeds sowat 300 diamante opgelewer wat meer as 100 karaat is.
“Ek is baie gelukkig om aan te kondig dat die diamant verkoop is. Die belangstelling daarin was baie hoog, so ook met die vorige twee diamante wat vroeër in November verkoop is,” het Johan Dippenaar, hoof-uitvoerende beampte van Petra gesê.
“Al drie diamante het saam net meer as R69 miljoen ($9 miljoen) verkry,” het Dippenaar gesê.
– Sapa