'Cowboy'-skieter ontglip polisie
2011-05-18 23:28
Johannesburg - ‘n Man wat sonder enige ooglopende rede geweerskote wild die lug in gevuur het in Wynberg, Sandton, het die polisie ontglip deur agterop ‘n bussie te spring, het die Johannesburgse metropolisie Woensdag gesê.
“Beamptes wat vanaand (Woensdagaand) aan diens was op die ou Pretoria Main-pad en Arkwrightlaan het geweerskote gehoor en ‘n man langs ‘n Toyota-bussie sien staan,” het Wayne Minnaar, woordvoerder, gesê.
“Hy het agterop die bussie gespring en dit het weggejaag. Die man het aangehou om geweerskote die lug in te vuur,” het hy gesê.
Toe die polisie die bussie in Alexandra genader het, het die man ‘n skoot op die metro-voertuig afgevuur. Dit het die motor getref, maar niemand is beseer nie, het Minnaar gesê.
Die man en die bestuurder van die bussie het dit verlaat en tussen die sinkhuise in verdwyn.
Volgens Minnaar word ‘n saak van poging tot moord ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA