Cosatu wil land 'tot stilstand bring'
2013-01-28 14:08
Johannesburg – Cosatu in Gauteng beplan om in Februarie wéér op te ruk teen die e-tolstelsel, het 'n woordvoerder Maandag gesê.
"Cosatu in Gauteng dra kennis dat die e-tolstelsel nie sedert ons laaste optog geskrap is nie," het Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris, aan joernaliste in Johannesburg gesê.
"Die veldtog om die hoofweg te beset en grootskaalse betogings sal voortgaan."
Die optog begin op 11 Februarie.
"Ons gaan uit. Ons gaan die hoofweë op daardie dag beset."
Dakile het gesê die optog sal in ander provinsies ook plaasvind, om te verseker dat dit 'n "nasionale kwessie" word.
Die tweede optog sal op 25 Februarige gehou word – dieselfde dag as die opening van die Gautengse wetgewer, terwyl die derde optog op 7 Maart sal plaasvind.
"Mense moet op daardie dag wegbly [van die werk af]. Die land moet tot stilstand kom."
Dakile het gesê verlede jaar se betogings was 'n "voorsmaak van wat voorlê".
"Al beteken dit daar moet elke dag 'n optog wees, ons is bereid om dit te doen totdat die regering na ons luister."
Die Pretoriase hooggeregshof het Vrydag die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) se verlof tot appèl toegestaan teen 'n vorige uitspraak en ook die kwessies van die hofkoste na die appèlhof verwys.
Outa het op 13 Desember 2012 aansoek gedoen om teen 'n uitspraak te appeller nadat die hooggeregshof sy aansoek om die tolstelsel te hersien, van die hand gewys het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA