Cosatu vra OB om na tender te kyk
2011-08-17 09:01
Kaapstad. – Cosatu in die Wes-Kaap het die openbare beskermer (OB) Dinsdag versoek om beweerde onreëlmatighede met tenders in die kantoor van die premier te ondersoek.
Dit volg ná ’n berig in die Sunday Times dat die kantoor van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, glo ’n tender vir kommunikasiedienste aan al die provinsiale staatsdepartemente toegeken het sonder dat behoorlike prosedures gevolg is. Die tender beloop glo R1 miljard oor twee jaar.
Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, vra in ’n brief dat die OB vier kwessies ondersoek.
Dit is:
Die vervanging van lede van die tenderbeoordelingskomitee kort voordat die tenders oorweeg is;
Die deelname van mnr. Ryan Coetzee, DA-strateeg, aan die tenderproses;
Die verontagsaming van tenderprosedures; en
Ondersteuning wat die suksesvolle tenderaars aan die DA kon gegee het, geldelike bydraes vir verkiesings ingesluit.
“Ons is bekommerd oor wydverspreide bewerings van ongerymdhede wat ons onder u aandag sal bring sodra die inligting aan ons beskikbaar gestel word,” lui Ehrenreich se brief.
Zille het die bewerings vroeër ontken en gesê sy is vol vertroue dat die tenderproses deursigtig, regverdig en kostedoeltreffend was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger