Cosatu se vyandigheid 'is geregverdig'
2012-05-15 22:02
Johannesburg – Die vyandigheid wat Dinsdag deur lede van Cosatu getoon is tydens ‘n DA-optog in die Johannesburgse middestad “is geregverdig”, het die vakbond gesê.
“DA-beleide... sal geen nuwe werke skep nie... en [sal] lei tot die verarming en onderwerping van werkers en ‘n ekonomiese versmelting vir Suid-Afrika,” het Patrick Craven, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
“Dit is hoekom werkers so vyandig is teenoor [die DA-leier] Helen Zille se party en hul geregverdigde woede wil uitdruk, veral wanneer hulle gekonfronteer word in die straat buite hul federasie se hoofkantoor,” het hy gesê.
Vroeër Dinsdag het die polisie traangas en waterkanonne ingespan om Cosatu-lede wat die DA gekeer het om buite die vakbond se hoofkwartiere te betoog, uitmekaar te jaag. Minstens twee mense is beseer toe Cosatu-lede klippe na DA-lede gegooi het.
Die DA wil hê Cosatu moet sy teenkanting teen die regering se beoogde jeugsubsidies, wat volgens die DA duisende nuwe werke vir jong mense sal skep, laat vaar.
Die DA-optog, wat deur Zille, Makashule Gana (jeugleier), Lindiwe Mazibuko (parlementêre leier) en Mmusi Maimane (nasionale woordvoerder) gelei is, het vreedsaam begin.
Die polisie het die groepe DA- en Cosatu-lede vir ‘n uur uitmekaar gehou terwyl hulle mekaar oor en weer beledig het.
Toe klippe en stukke sement die skare in gegooi is tydens Zille se toespraak en ‘n DA-lid op die BBP-voertuig ernstig beseer is, het die DA teruggetrek.
Craven het Cosatu-lede daarmee geluk gewens dat hulle die DA gedwing het om ‘n “skandelike terugtog” te maak.
“Ongelukkig was daar verwarring onder die betogers oor waar presies die DA se memorandum oorhandig sou word,” het hy gesê.
“Dit het gelei tot ‘n konfrontasie... waartydens daar ‘n paar voorvalle van klipgooiery deur individue was, wat daartoe gelei het dat verskeie mense aan albei kante van die konfrontasie beseer is. Ons wens hulle almal ‘n spoedige herstel toe.”
Hy het gesê Cosatu veroordeel die geweld, maar het gesê die meeste van sy lede het hulself met “voorbeeldige dissipline en selfbeheersing” gedra.
“Ons herken die DA se reg om te betoog, maar ons dring daarop aan dat Cosatu-lede ‘n gelyke reg moet hê om dan dáárteen te betoog.”
In ‘n teen-memorandum het Cosatu gesê die meerderheid van Suid-Afrika se werkers is gekant teen alle DA-beleide, aangesien dit die belange van sy “ondersteuners in groot besighede” verteenwoordig.
“Die basis vir al hierdie verskille lê in die feit dat terwyl Cosatu die werkersklas en die armes verteenwoordig, die DA praat vir groot besighede, die rykes en die bevoorregtes,” het Cosatu in die memorandum gesê.
“Dit is waarom ons geen voordeel daarin kan sien om hierdie kwessies met hulle te bespreek nie.”
Zille, wat betogers in Xhosa en Engels toegespreek het, het gesê die DA betoog in solidariteit met werklose Suid-Afrikaners.
“Ons wil almal lewens leef wat bydra tot die samelewing. Ons wil almal onsself en ons families onderhou. Ons wil almal seker maak dat ons kinders meer geleenthede het as wat ons gehad het,” het sy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA