Cosatu prys Zuma oor aksie teen Cele
2011-09-24 10:53
Kaapstad - Die vakverbond Cosatu is verheug omdat pres. Jacob Zuma uiteindelik besluit het om genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, vas te vat.
“Hy tree op en ons moet hande klap. Dit moes lankal gebeur het,” het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, Vrydag gesê.
Sekere mense binne die regerende alliansie meen dié stap kan Zuma polities benadeel weens Cele se groot invloed in KwaZulu-Natal – Zuma se tuisprovinsie en sy sterkste magsbasis binne die ANC.
Vavi het dit afgelag. “Enige optrede teen korrupsie is goed, ongeag wat Cosatu se grootste kommer was, dat die president nie beslissend optree nie. Ons hoop hy sloer nie met Shiceka nie.” (Die openbare beskermer ondersoek aanklagte van wanbesteding teen Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering.)
Zuma oorweeg dit om Cele te skors, hangende die uitslag van ’n raad van ondersoek na adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), se bevindings dat Cele onregmatig en onwettig opgetree het in verband met die sluiting van twee onwettige huurooreenkomste ter waarde van R1,8 miljard vir polisiekantore in Pretoria en Durban.
Die DA en die VF+ eis steeds Cele moet summier afgedank word en meen ’n verdere ondersoek is onnodig, aangesien Madonsela reeds bevind het hy het hom aan wanbestuur skuldig gemaak.
“Cele is nie geskik om ’n polisiehoof te wees nie. Hy is nes Selebi (Jackie Selebi, veroordeelde voormalige polisiehoof) ’n verleentheid,” het Pieter Groenewald van die VF+ gesê.
Die OB se bevindings is egter nie bindend nie en Die Burger het verneem die prosedure wat Zuma ingevolge die Polisiewet volg, is korrek. Daar is ook steun uit die kabinet en ’n regsmening is ingewin.
Groenewald en Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor die polisie, meen Zuma se skielike optrede hou eerder verband met binnegevegte in die ANC in die aanloop tot volgende jaar se leiersverkiesing in Mangaung.
Intussen het Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, se beeldpoetser ontken die minister voer ’n intensiewe veldtog om haar naam in ere te herstel nadat die OB bevind het sy het ook onregmatig opgetree.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger