Cosatu kap na inflasieteikens
2010-02-18 08:05
Politieke Redaksie
Kaapstad - Die vakverbond Cosatu is “bitter teleurgesteld” dat die Reserwebank se inflasieteikens steeds tussen 3% en 6% is.
Dié linkse vleuel van die regerende alliansie het ná Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingstoespraak opnuut onder die bank se direksie ingeklim en volgehou dit is “onverteenwoordigend”, al wys die president die helfte van die lede aan.
“Daarom is daar net een ideologiese standpunt wat die direksie oor monetêre beleid kan inneem... dis nog erger dat die ander helfte van die direksie uit die private sektor kom. Dis waarom hulle sal voortgaan om hierdie inflasieteikens te stel,” het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, buite die parlement gesê.
Hy het volgehou private aandeelhouers beïnvloed die bank se beleidsrigting. “Komaan, natuurlik (doen hulle dit), maak nie saak wat hulle sê nie. Kyk na die bank se vertoningslys: Wie word deur hul optrede bevoordeel?”
Cosatu gaan hom ook nie steur aan Gordhan se waarskuwing dat staatsamptenare voortaan “middelmatige” salarisverhogings te wagte moet wees nie.
“Ons hou nie daarvan om ons loononderhandelings deur die begroting te doen nie; dit moet in die bedingingskamers gedoen word. Dié uitlating is totaal onvanpas,” het Vavi gesê. Volgens hom sal Cosatu vandag op ’n mediakonferensie in Johannesburg verder oor hul bedenkinge uitwei.
Vavi is wel tevrede met die onderneming dat die Reserwebank voortaan ook die ekonomiese groeikoers, werkskepping en die wisselkoers in ag sal neem wanneer monetêre beleidsbesluite geneem moet word.
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, is op sy beurt tevrede met hoe Gordhan die Reserwebank se rol verwoord het.
“Hy het duidelikheid oor ’n knelpunt gegee en gesê die bank moenie nou doelstellings najaag nie, hy moet eerder sensitief vir die ontwikkelingsbehoeftes van die land wees. Inflasiebeheer en die stabiliteit van die geldeenheid is belangrik, ja, maar hy moet bewus wees van ander behoeftes.”
Gordhan het op ’n mediakonferensie vroeër die dag kopieë van ’n brief wat hy aan Gill Marcus, president van die Reserwebank, geskryf het, uitgedeel. Daarin het hy die bank se mandaat uiteengesit en bevestig. Sowel Gordhan as Marcus, wat ook die mediakonferensie bygewoon het, het gesê hulle is gemaklik daarmee dat bogenoemde inflasieteikens en die stabiliteit van die rand die bank se belangrikste funksies is.
Gordhan het in die brief beklemtoon die tesourie en die bank moet voortaan duidelik met die publiek kommunikeer oor wat die redes vir hul besluite is. Hoewel die mandaat van die Reserwebank dus nie aangepas is soos die ANC se alliansievennote eis nie, moedig Gordhan deurlopende gesprekvoering daaroor aan.
- Die Burger